Musiek

November 12, 2007 at 2:00 vm (Pixels)

Daar was ‘n paar mense wat gevra het waar hulle my songs kan download. Wel, dis nou ook beskikbaar by http://www.streetlamp.co.za/

Hierdie website is so twee weke terug ge-launch, en maak dit ook moontlik vir nuwe kunstenaars om hulle musiek te verkoop. Dit werk soos die ander meer bekende sites, en jy kan na ‘n snippet gaan luister voor jy besluit om dit af te laai. Die eerste 10 downloads van songs is gratis, daarna kos dit ‘n minimale bedrag, waarvan die kunstenaar ‘n gedeelte kry.

Ek is nog steeds by http://myspace.com/soniasinclair as jy sommer net vinnig wil gaan luister en maklik by ander kunstenaars se ’spasies’ wil uitkom!

Julle moet ‘n fantastiese week hê. (Myne gaan baie besig wees!)

SS

Permalink 7 Kommentaar

Vermetelheid

November 7, 2007 at 12:24 vm (Pixels)

Ek wonder so bietjie vanaand…

Nou die dag stap ek by ‘n kafee in oppad huis toe. Dis so een uur se kant. Ek ken die kafee glad nie, maar sien hy’t ‘n bakkery, en ek het nodig om broodrolletjies te koop. Ek stap in en gaan wag my beurt af om die broodjies in ‘n kardoes te kry. Daar’s ‘n paar mense voor my in die ry, maar ek gee nie om vir die wag nie – ek is vir ‘n slag nie agter skedule nie.

Ek het net lekker my staan gekry en die reuk van varsgebakte brood regtig begin geniet, toe ek voel iemand stamp, stamp my hier aan die een arm. Nog voor my oë die regte plek kon kry, is die walms by my neusgate in.

Onmiddelik word die warm-brood-prentjie in my brein vervang met flitse van ‘n shebeen op ‘n rottende vullishoop! Die flitse het ‘n stem en dit bring my uit my beswyming, net om my weer vinnig teen ‘n muur vas te druk en my te wurg-walg met die woorde wat ek hoor…

Die Afrikaanse stem kom uit ’n wit vrou wat vir baie lank al in haar lewe ‘n slegte grondpad stap. Ek kyk vinnig rond in die kafee om my situasie op te som. Dis ek en sy. Die twee Grieke daar voor by die betaalpunt. Die twee swart vrouens wat die kardoesies vol maak. En omtrent nog tien swart klante. Almal wat daar is om iets te koop, het geld om daarvoor te betaal, behalwe sy!

Sy praat so tussen my dinkery deur, maar ek probeer om my nie aan haar te steur nie, want sy het nog net kru-taal gebruik en rassistiese aanmerkings gemaak. Sy het nog nie vir geld gevra nie, maar ek weet dit kom.

Niemand in die kafee sê ‘n woord oor al haar uitlatings nie. Miskien ken hulle almal haar. Maar ek is geskok! Nie oor hoe sy lyk nie en ook nie omdat sy bedel nie… maar oor haar vermetelheid!

Sy het tien teen een nie ‘n dak oor haar kop nie. Sy het beslis nie ‘n werk nie. Haar daaglikse kos bestaan seker uit ‘n halwe brood en ‘n bottel spirits (die brood is dalk nie daagliks nie, maar eerder weekliks). Haar lyf het bitter lanklaas seep gesien en haar klere ook. Sy bedel by enige iemand. En dan voel sy, sy is nog steeds BETER as die swart mense in daai kafee!!!

Ek kry mense, uit alle rasse groepe, wat swaarkry baie vinnig jammer. En as ek kan, help ek met ‘n ietsie – of dit nou geld is, kos of klere, as ek in my hart dit voel om te gee, dan doen ek dit. Maar as jy langs my staan met niks in die lewe nie, en jy het SO ‘n houding, gaan jy bitter moeilik enige iets uit my kry…

Sy het uiteindelik na ‘n lang relaas en geswetsery daarby uitgekom om vir my te vra vir geld. Ek was bang hiervoor, want die stemme in my kop skree NEE! Maar my hart fluister (baie sag) dat ‘n ietsie nie ‘n duik in my beursie sal maak nie… Ek bied toe maar aan om vir haar iets te kry om te eet. Wel, dit was die einde van ons vriendskap! Die see sal my nooit, ooit kan skoon was nie!!

Nou wonder ek vanaand: Dit maak nou nie saak dat sy eintlik net drankgeld wou gehad het nie. Ek het my persepsie gemaak nog voor sy my kon uitskel – oor haar vermetelheid.

Is my houding teenoor haar dan nie ook vermetel nie?

SS

Permalink 5 Kommentaar

Esprit!

November 1, 2007 at 11:58 nm (Pixels)

dsc01128.jpgdsc01128.jpgdsc01128.jpgdsc01128.jpgdsc01128.jpg

Hierdie is die stoutgat Esprit-drinkers!

Is ons nie te cute nie? Hoop maar nie my maatjies gee om dat ek hulle gesiggies hier plaas nie. Ek sal maar sê dis alles Eben en Roer se skuld!! Hulle het my gemaak dit doen…

Kry ‘n mens nog Esprit?

Lekker bly

SS

 

Permalink 10 Kommentaar

Lekker kuier

Oktober 30, 2007 at 11:46 vm (Pixels)

Die reünie was G R E A T !

Ja, so het ons maar almal ons opinies oor reünies, né! Duidelik so, anders was daar ‘n baie groter opkoms by ons s’n ook… Nie te min, die 40 of 50 van ons wat dit kon/wou maak, het dit geniet! (Die weer het nie saam gespeel nie. Dit was koud en nat! Baie nat!! )

Dit was defintief baie lekkerder as die 10 jaar een. Baie minder kompetisie, voorgee en afshow. Alles het nie gedraai oor wat jy doen, met wie jy getroud is, of jy getroud is en hoeveel kindertjies jy het nie. Ja, dis maar die dinge wat (meeste) mense in gemeen het, maar dit was toe nog ‘n kompetisie, veral tussen die girls.  Hierdie keer was die gesprekke baie ’gemakliker’ en het almal baie meer gepraat oor die ou dae: al die nonsens wat aangejaag is, onderwysers, garage parties… ag, sommer net al die ’lekker onthou-dinge’! (Ek het lanklaas SO baie gelag…)

Ek was verbaas om te sien dat die mans nie so mooi na hulleself gekyk het oor die jare nie. In vergelyking met die vrouens, lyk dit of die meeste mans so effe ‘laat gaan’ het. Soveel boeppense het ek lanklaas bymekaar gesien! Die vrouens het defintief die ‘looks’ rondte gewen!

Daar was BAIE kiddies… Dit het erger gelyk as ‘n Spur op ‘n Saterdagaand! Die couple met die meeste kinders (6) het ook die oudste (19 jaar). Hulle is nog steeds getroud en lyk baie gelukkig en verlief. Dit wil gedoen wees!

Die Esprit-groepie was voltallig! Ons het sommer net daar besluit om ons eie Julius Ceasar reünie binnekort te hou.

Nommers en emailadresse is uitgeruil en beloftes om mekaar gou weer te sien, is gemaak. Hopelik kan ‘n paar van ons kontak behou.

Dit was G R E A T !

SS

Permalink 8 Kommentaar

Reünie

Oktober 25, 2007 at 1:06 vm (Pixels)

Voor ek oor die reünie praat, wil ek net eers dit sê: 

Toe ek my vorige post geskryf het, het ek effe mismoedig hier voor my rekenaar gesit. Ek probeer baie hard om die lewe positief te benader, want anders (wel, so sien ek dit) beland jy in ‘n groot donker gat met geen tou, leer of trap nie. Maar daai snaakse swaar mannetjie wou my net nie uitlos nie en het hier op my skouer kom sit en my met al sy krag probeer af druk.

Ek besluit toe om bietjie by julle almal se blogs in te loer – ek het dit immers vir amper twee weke verwaarloos – en dan sommer iets nuuts hier by my op te sit. Maar die beswaarde gevoel bly vlak lê en die woorde is toe maar min.

Nie te lank daarna nie, lees ek die paar comments wat toe al op is. En ‘n KLEIN, SIMPEL woordjie laat my giggel. ‘Vakansie’  sal vir altyd ‘vaNkansie’ vir my bly. Dit klink miskien nou baie stupid, maar die hele gespottery daaroor het my mood verander. Dit het my net weer gewys wat ‘n bietjie humor, en die gebruik van jou lagspiere, kan doen. Dankie vir die saam speel, julle. Ek het dit nodig gehad. My happy-gevoel is terug!

In elk geval, ek gaan Saterdag na ons 20 jaar reünie toe! Ek sien nogal daarna uit om al die ou ‘goeie’ skoolvriende weer te sien. En anders as die 10 jaar reünie, sien ek regtig ook uit daarna om hierdie keer die ou ‘verlore’ skoolvriende te sien. (Hoe ouer ek word, hoe meer sentimenteel raak ek!) Julle weet, daai wat nie deel was van jou intieme groep nie, maar met wie jy nog steeds ‘n bond gehad het. Soos die ou wat altyd aspris sy toets so mooi oop gehou het, sodat ek sy antwoorde kon sien en afskryf in die Wetenskap klas. Die girls saam met wie ek fiets gery het elke dag skool toe – in reën en hael, vol modder gespat teen die tyd wat jy by die skool uitkom. Die outjie wat konstant vrae gevrae het in die Rek klas – ek wonder of hy nog so irriterende streep het? Almal wat saam Esprit gedrink het na skool voor ons Julius Ceasar in Pretoria kom kyk het! Die ou wie ek in die operette moes soen (ek word tot vandag nog gespot daaroor). Al die ou kêrels…

En so kan ek aangaan. Daar’s vreeslik baie wie se name en gesigte ek baie goed kan onthou, en dan is daar name op die lys wat ek glad nie kan onthou nie! Maar ek gaan môre my matriek jaarboek uit my groen tassie haal en op swot (dis nou die tas waarin ek al my ‘belangrike’ goed van skool bêre… al die ou love letters, gedigte, dagboeke en foto’s. Ek dink daar’s selfs ‘n paar baie ou sweeties nog daarin!). 

Hou julle van reünies?

SS

Permalink 13 Kommentaar

Mmm…

Oktober 23, 2007 at 1:12 vm (Pixels)

Ok. Ek moet dit darem ook net doen. Almal is dalk al redelik gatvol hiervoor, maar ek kan nie dit NIE doen nie…

Baie geluk Springbokke! Die beker is weer ons s’n! “Go bok-ke! Go bok-ke!”

Ek het nie veel om verder te sê nie, maar ek wil graag met julle ’n gedagte deel wat ek net nie uit my kop kan kry nie… “Ek het ‘n vankansie nodig!”

Lekker dag

SS

Permalink 15 Kommentaar

Attitude…

Oktober 10, 2007 at 11:48 vm (Pixels)

  

  

Attitudes are contagious. 

Are yours worth catching? 

~Dennis Mannering~

SS

Permalink 5 Kommentaar

Paaldans II

Oktober 9, 2007 at 12:48 nm (Pixels)

Eintlik noem mens dit Paal-fiksheid klasse! As jy blykbaar na ‘n genuine fiksheid studio gaan waar hulle dit aanbied, sal hulle ook vir jou sê dat hulle jou nie daar oplei om iewers in ‘n klub te gaan dans nie, maar dat dit net nog ‘n fiksheidroetine is, soos bv pilates / joga / ens. wat hulle aanbied.

En dit was toe al die tyd net ‘n workshop. Daarna besluit jy of jy vir die klasse wil gaan. Ek wil! En ek kan dit regtig aanbeveel!

Kom ek begin vertel… 

Party girls het in hulle gym kleerpies daar aangekom en ek en vriendin sommer in ons jeans. (Roer, die jeans was met tye bietjie ongemaklik, so, die duikpak gaan definitief nie werk nie!). Die instrukteur het vir ons bietjie agtergrond gegee en vertel wat sy vir ons alles gaan wys. Sy vertel en wys watter spiere ‘werk’ – baie bo, bitter min onder, daarom verkies party vrouens om dit met hoë-hakke te doen – dit werk bietjie die kuite. Sy begin met ‘n vier min warm-up en doen dan ‘n paar beginners, intermediate en advanced ‘moves’. Na die warmup is SY bietjie uitasem en ek dink: dit lyk dan so maklik… sy moet onfiks wees…

Na haar hele roetine, is dit ons beurt. Net as jy wil. Jy staan onder geen verpligting nie. Die eienaar van die studio, waar die workshop aangebied is, het ‘n hele paar bottels vonkelwyn gekoop, en die proppe is al ‘gepop’ toe ons daar aan kom – dit was so 07:30. Die klas het eers 08:00 begin! Dit voel mos asof ‘n mens guts nodig het, né!

Daar was net twee girls wat nie probeer het nie – hulle het die foto’s geneem (goeie verskoning!), uit so 14 van ons. Dit was vet pret. Ons het vir mekaar gelag, hande geklap as iets reggekry is, raad probeer gee en handdoeke aangegee vir die sweet-hande. Maar ons het meer gelag as enige iets anders!! Dis nie maklik nie!! Maar dis hope fun!

Nog ‘n paar bottels vonkelwyn word oopgemaak…

Niemand van ons het regtig belang gestel om die beginners ‘moves’ te probeer nie. Nee, die moeiliker goed lyk mos baie lekkerder om te doen. En toe ek eers agterkom ‘n mens moet bietjie momentum kry, toe hang en swaai ek aan daai paal asof ek ‘n ou paaldanser is! Maar, dit werk jou arms, hoor! En as jy nie mooi klou nie, kom jy vinnig vloer toe! Die belangrikste om te onthou, as jy omswaai, is: pelvis uit! Anders lyk jy soos ‘n bobbejaantjie wat vir jou lewe klou!! Daar was ‘n paar wat meer gesukkel het as ander, maar die ding is, jy hoef nie alles al by die workshop reg te kry nie. Dis hoekom daar klasse aangebied word.

En nog ‘n paar bottels word oopgemaak…

Dan is daar nog ‘n paar goedjies wat sy aangebied het in haar workshop wat ek nou nie hier gaan bespreek nie… Al wat ek kan sê: Dis baie fun!

Sleep ‘n goeie vriendin saam en doen die workshop – jy hoef nie deel te neem nie, jy kan net kyk ook. Die girl was baie stylvol en dit was alles behalwe sleezy!

NS: Ek het Sondagoggend opgestaan met ‘n baie teer regter bo-arm, blou knieë en baie seer spiere.

SS

Permalink 3 Kommentaar

Paaldans

Oktober 5, 2007 at 8:47 vm (Pixels)

Dis mos die nuwe craze om vir ‘n paaldans klas of 2 te gaan, of is dit eintlik nou al verby? Is nie seker nie, maar ek gaan môre oggend vir een. My beste vriendin het vir my en haar ‘n klas bespreek – dis ‘n verjaardag geskenk, sê sy!

Ek dink dit gaan nogal fun wees. Om regtig om die paal te kan ‘gly’, met ‘n ‘redelike sexy’ uitdrukking op jou gesig, sonder om neer te flop op die vloer… sal ons dit maar die ‘tricks of the trade’ noem…?

Ek vra gisteraand vir Ouma om asseblief vir my ‘n rukkie na die kinders te kyk, want ek het mos nou hierdie ‘afspraak’. Ouma word oor ‘n paar maande 70… Sy vra heel geïntereseerd waar ek dan nou heen gaan… Ek vertel haar..

Was sy nou verontwaardig! Ek is dan ‘n vrou met twee kinders. Hoe kan ek nou sulke goed wil aanvang. Ai, ai, ai. Times, shure have changed!!! Ek het mooi verduidelik dat ek nie by een of ander strip klub gaan begin dans nie. Sy het beter gevoel, maar ek kan sien sy verstaan dit regtig nog nie!

In elk geval, ek sal julle Maandag van my wedervaringe kom vertel!

Geniet julle naweek!

SS

Permalink 4 Kommentaar

Donderweer bewerasies

Oktober 4, 2007 at 12:49 nm (Pixels)

Wat het geword van somer-laatmiddag-reënbuie en donderweer in die ‘Hoëveld’?

Net nou die dag nog, was dit ‘n uitgemaakte saak: ‘n Heerlike sonskyndag… kom vieruur, steek die donker wolke op. Blitse, donderweer en ‘n reënbui en dis verby. Dit werk nie meer so nie!

Weet nie hoe gaan dit in julle huise nie, maar hier by ons is dit chaos wanneer die storm begin. Ons het 4 honde en ‘n kat – ‘n dbv-storie vir ‘n ander dag! En 2 kindertjies. Die een groot hond het ons by die dbv gaan aanneem toe sy 2 jaar oud was. Hulle het ons nie die volle geskiedenis gegee nie!! Sy’s bietjie ‘mal’. Sodra sy nie weet hoe om ‘n situasie te hanteer nie (wat ten minste 5 keer ‘n dag gebeur), begin sy grom en byt haat haar agterpote. Dit klink en lyk vreeslik, maar sy sal niemand anders byt nie, net haarself. Die ander groot hond is ook ‘n borderkollie-kruising en hulle is maar die sensitiewe soort! En dan die maltese poedel en chihuahua (ouma s’n). Almal slaap in die huis in hulle mandjies – behalwe as daar ‘n storm is!

Gisteraand sit ek en werk, die kindertjies is al lankal in droomland. Soos elke aand vat Liefie die honde uit om te gaan pp voor ons gaan slaap. Hy gaan solank kamer toe en die honde is in hul mandjies. Salige stilte, nou kan ek lekker werk. En skielik is daar ‘n oorverdowende slag! En net daarna ‘n hengse commotion. Kinders wat skree en honde wat grom en tjank. Ek en Liefie ontmoet mekaar halfpad in die gang en ek gaan sus vir baba en hy sus die oudste en sorteer die honde uit. Gmf! Dis baie makliker om kinders te kalmeer as om die honde rustig te kry. Jy kry hulle nie eers van Kyla se bed af gelok met ‘n lekker rooi worsie nie! So 15 minute later is die donderweer weg en die reën val te lekker. Almal is bietjie rustiger. (FYI: Ons honde klim nooit sommer op die bed of banke nie – dis waarom hulle elkeen ‘n mandjie met ‘n kussing en kombers het – ons het hulle mooi ‘probeer’ leer…?)

Ek gaan maak klaar met my werk.

Toe ek uiteindelik in die bed is en net besig is om in te sluimer… ‘n hengse slag! In ‘n kwessie van sekondes het ons ‘n kind en 3 honde op ons bed en hulle almal duik vir die middel om onder die duvet in te kom!! Die een bewe, die een grom en Kyla huil!  En tussen dit alles probeer ek UIT die bed kom om vir skreeuende-Shani-baba te gaan troos in haar kamer (sy slaap nog in har kot).

Op die ou einde is ek en die twee kids in ons bed  – ek doodmoeg, die kinders wawyd wakker – en Liefie sit op die stoel en probeer die honde van die bed af hou met ore vryf en rustige trooswoorde. En die blitse en donderweer het nie einde nie! Dan sit hulle en bewe voor die stoel, dan’s hulle weer op ons bed. Probeer hulle afkry, dan’s daar eers weer ‘n ge-grommende-poot-etery en ‘n ‘julle kan my mos nie sien nie, want my kop is onder die kussing en ek move nie”. Dan kry ons hulle weer af en bietjie rustiger… nog ‘n harde slag, en hulle is weer op. En so raak my geduld baie min en sesuur kom al hoe nader!

Vanoggend toe ons wakker word, is die hondjies rustig in hulle mandjies en ek en Liefie lê elkeen op ‘n klein stukkie bed met ‘n klein stukkie van die duvet. Dié van julle wat julle kinders al saam met julle in die bed laat slaap het, sal presies weet hoekom…

Die honde was nie altyd so erg nie. Maar iets sal gedoen moet word, net nie seker wat nie! Daar’s nie ‘n manier wat ek my honde buite laat bly nie en ons het al probeer om hulle in die waskamer toe te maak, maar hulle het so getjank en die deur gekrap, dat ons dit ook maar laat vaar het.

Het enige iemand raad?

Lekker dag

SS

Permalink 3 Kommentaar

« Previous page · Next page »