Kinders en vakansie
Ons is nog net een week in die skoolvakansie in en ek is al klaar moedeloos! My kind sê sy’s verveeld!!!! Sy soek maatjies. (Ek kan verstaan dat dit nie vir ‘n 8-jarige lekker is om net heeldag met ‘n 20 maande oue ‘baba’ te speel nie… maar ‘baba’ verstaan dit glad nie!) En meeste van die maatjies is al weg vir die vakansie!
Ek het nog nie die vakansie-feeling gekry nie en werk nog kliphard aan ‘n paar dinge wat MOET klaar voor middel Desember. So, vir rondspeel en fliek saam met die kindertjies is daar nog nie tyd nie. Die jongste een se roetine slapie in die oggende is weg… missing… skoonveld! Want sussie is dan hier by die huis!
Daar is al geverf, geteken, kerskaartjies gemaak, geswem, koekies gebak, dvd’s gekyk, gelees, pop gespeel, en, en… Natuurlik wil baba alles saam doen – tot ousus se ergernis!! En die weer speel ook nie saam nie. Dit reën elke nou en dan.
Ek is bevrees die ge-kerm gaan my mal maak. Het enige iemand raad vir ‘n moedelose ma?
Ge-Tag
Ek is deur Dellie ge-tag en moet ook nou 8 ‘interessante’ feite oor myself hier publiseer.
Nou goed, hier gaan ons:
1. Ek is ‘n enigste kind.
2. Ek was in 12 skole deur my skoolloopbaan, maar gelukkig, die laaste 4 jaar van hoërskool darem net in 2 skole! Dankie tog, want groot kinders maak nie so maklik ‘maakies’ soos die kleintjies nie… hehe
3. Ek rig netbal af by die laerskool waar my dogtertjie is (Gr1 en 2’s) – dis baie fun!
4. Ek het eendag, baie moons ago, my neus vel-af geloop teen ‘n growwe baksteen muur, na ’n paar tequila’s te veel! Dit was baie weird, want ek het die muur gesien, maar nie besef ek loop so ‘vinnig’ nie… of so iets… Ek hou nog steeds baie van tequila, maar weet na dese wat my limitations is!
5. Ek is mal oor langarm dans en het ook by sekerlik elke langarm-dansplek in Pta uitgehang doerie jare. Ek kan ramba, samba, cha-cha, jive, ens. – Liefie kan nie… ek het hom al probeer leer, maar dit sink nie lekker in nie. Nou’s hy maar net saam met my op ‘n dansvloer by troues vir ‘ondersteuning’. Hy beweeg net sy voete en hou my vas terwyl ek al die moves doen! (Hy’s ‘n goeie sport en het al vir my ge-breakdance… LOL!!)
6. Ek het diep in my 20’s vir die eerste keer in ‘n kommune ingetrek saam met 4 ouens. Dit het my genees van alle hang-ups wat ek op daardie stadium gehad het… en miskien ook díe wat ek nog sou ontwikkel!
7. Op skool wou ek baie graag draadjies gehad het, maar my tande wou nie skeef groei nie. Ek en ‘n vriendin het dan maar partykeer ‘n rekkie styf om ons tande gesit, sodat ons ook kan ’snaaks’ praat – duh!
8. Ek is mal oor bordspeletjies en kaart speel. My gunsteling is trivial pursuit, 30 seconds, en activity.
En net ‘n laaste een: Ek LOVE sushi en sal dit elke dag van my lewe eet!
Is nie seker wie almal al getag is nie! Ek probeer maar vir Vygie , Annie en Adele.
Rooi Blertse
Ek dink ek moet dalk vir ‘n rukkie my blog eerder Rooi Blertse noem! Hoekom? Want ek is, om dit sagkuns te stel, baie die m*#$%*r in!! Om so te sukkel om ‘n lyn te kry om te werk is mos verregaande… for goodness sake, as ek in Pofadder of Koekenaap gebly het, het ek dit miskien verstaan, maar ek bly in Pretoria! Ek vermoed die outjies was dalk ook te bang om hier by my huis aan te kom, want die eerste een wat hier opgedaag het – eers 5 dae NADAT ek die fout gerapporteer het – het nie in ‘n vriendelike, bedagsame, ordentlike vrou vasgeloop nie…
Gister was my lyne aan vir ‘n rukkie, maar nie lank genoeg om by julle te kuier nie. Na ‘n vreeslike geswetsery het ek vir my ‘n wyn’tjie ingegooi en rustig probeer raak. Na die derde glasie wyn het my vriendin se plan nie so sleg gelyk nie: Sy vertel my nou die dag, sy’s so gatvol vir hierdie ratrace. Sy verkoop sommer haar huis, koop ‘n karavaan en gaan bly iewers by die see. Dan gaan sy sandale maak en verkoop vir net genoeg geld om te kan oorleef!
Vandag is ek aanlyn… al vir ‘n paar uur, sonder probleme. Touch wood… Nou gaan ek eers bietjie kyk wat is nuus daar by julle – het julle vreeslik gemis!!
Krismiskoek
Is dit net ek, of raak vrugtekoek regtig lekkerder hoe ouer ‘n mens word? As kind kon ek dit net nooit in my lyf kry nie, en al die ‘ou’ mense het gesmul daaraan.
Vir die afgelope 3 jaar bring Liefie, elke jaar hierdie tyd, ‘n heerlike vrugtekoek by die huis aan. Die eerste keer het ek hom baie snaaks aangekyk, dankie gesê, en die koek vir my ma gegee. Sy het elke nou en dan vir hom ‘n paar stukkies aangedra. Een aand raak ek lus vir ietsie soets en proe toe nou maar ’skelm’ aan ‘n stukkie. Wow… glad nie te sleg nie! Teen die derde stuk, ‘n paar dae later, was ek hooked.
Die jaar daarna het dieselfde resep krismiskoek weer hier aangekom – teen Krismis was daar nie eers meer krummeltjies oor nie.
Eergister het ons weer ons geliefde krismiskoek gekry! En so sal ons, vir solank daai Tannie hulle bak, elke jaar een bestel. En raai wat? My kinders kry dit ook nie afgesluk nie! Maar ek weet hulle gaan ook eendag ‘oud’ wees.
Ons het besluit ons gaan stadig proe hierdie jaar…
Musiek
Daar was ‘n paar mense wat gevra het waar hulle my songs kan download. Wel, dis nou ook beskikbaar by http://www.streetlamp.co.za/
Hierdie website is so twee weke terug ge-launch, en maak dit ook moontlik vir nuwe kunstenaars om hulle musiek te verkoop. Dit werk soos die ander meer bekende sites, en jy kan na ‘n snippet gaan luister voor jy besluit om dit af te laai. Die eerste 10 downloads van songs is gratis, daarna kos dit ‘n minimale bedrag, waarvan die kunstenaar ‘n gedeelte kry.
Ek is nog steeds by http://myspace.com/soniasinclair as jy sommer net vinnig wil gaan luister en maklik by ander kunstenaars se ’spasies’ wil uitkom!
Julle moet ‘n fantastiese week hê. (Myne gaan baie besig wees!)
SS
Vermetelheid
Ek wonder so bietjie vanaand…
Nou die dag stap ek by ‘n kafee in oppad huis toe. Dis so een uur se kant. Ek ken die kafee glad nie, maar sien hy’t ‘n bakkery, en ek het nodig om broodrolletjies te koop. Ek stap in en gaan wag my beurt af om die broodjies in ‘n kardoes te kry. Daar’s ‘n paar mense voor my in die ry, maar ek gee nie om vir die wag nie – ek is vir ‘n slag nie agter skedule nie.
Ek het net lekker my staan gekry en die reuk van varsgebakte brood regtig begin geniet, toe ek voel iemand stamp, stamp my hier aan die een arm. Nog voor my oë die regte plek kon kry, is die walms by my neusgate in.
Onmiddelik word die warm-brood-prentjie in my brein vervang met flitse van ‘n shebeen op ‘n rottende vullishoop! Die flitse het ‘n stem en dit bring my uit my beswyming, net om my weer vinnig teen ‘n muur vas te druk en my te wurg-walg met die woorde wat ek hoor…
Die Afrikaanse stem kom uit ’n wit vrou wat vir baie lank al in haar lewe ‘n slegte grondpad stap. Ek kyk vinnig rond in die kafee om my situasie op te som. Dis ek en sy. Die twee Grieke daar voor by die betaalpunt. Die twee swart vrouens wat die kardoesies vol maak. En omtrent nog tien swart klante. Almal wat daar is om iets te koop, het geld om daarvoor te betaal, behalwe sy!
Sy praat so tussen my dinkery deur, maar ek probeer om my nie aan haar te steur nie, want sy het nog net kru-taal gebruik en rassistiese aanmerkings gemaak. Sy het nog nie vir geld gevra nie, maar ek weet dit kom.
Niemand in die kafee sê ‘n woord oor al haar uitlatings nie. Miskien ken hulle almal haar. Maar ek is geskok! Nie oor hoe sy lyk nie en ook nie omdat sy bedel nie… maar oor haar vermetelheid!
Sy het tien teen een nie ‘n dak oor haar kop nie. Sy het beslis nie ‘n werk nie. Haar daaglikse kos bestaan seker uit ‘n halwe brood en ‘n bottel spirits (die brood is dalk nie daagliks nie, maar eerder weekliks). Haar lyf het bitter lanklaas seep gesien en haar klere ook. Sy bedel by enige iemand. En dan voel sy, sy is nog steeds BETER as die swart mense in daai kafee!!!
Ek kry mense, uit alle rasse groepe, wat swaarkry baie vinnig jammer. En as ek kan, help ek met ‘n ietsie – of dit nou geld is, kos of klere, as ek in my hart dit voel om te gee, dan doen ek dit. Maar as jy langs my staan met niks in die lewe nie, en jy het SO ‘n houding, gaan jy bitter moeilik enige iets uit my kry…
Sy het uiteindelik na ‘n lang relaas en geswetsery daarby uitgekom om vir my te vra vir geld. Ek was bang hiervoor, want die stemme in my kop skree NEE! Maar my hart fluister (baie sag) dat ‘n ietsie nie ‘n duik in my beursie sal maak nie… Ek bied toe maar aan om vir haar iets te kry om te eet. Wel, dit was die einde van ons vriendskap! Die see sal my nooit, ooit kan skoon was nie!!
Nou wonder ek vanaand: Dit maak nou nie saak dat sy eintlik net drankgeld wou gehad het nie. Ek het my persepsie gemaak nog voor sy my kon uitskel – oor haar vermetelheid.
Is my houding teenoor haar dan nie ook vermetel nie?
SS
Esprit!
Hierdie is die stoutgat Esprit-drinkers!
Is ons nie te cute nie? Hoop maar nie my maatjies gee om dat ek hulle gesiggies hier plaas nie. Ek sal maar sê dis alles Eben en Roer se skuld!! Hulle het my gemaak dit doen…
Kry ‘n mens nog Esprit?
Lekker bly
SS



