Pers armbande

September 28, 2007 at 9:31 vm (Pixels)

Dagsê almal.

Ons het ons eerste reën gehad en ek kan letterlik hoor hoe groei die gras. Ek is oor die algemeen nie te lief vir reënweer nie – dit laat my krullebol vreeslik friz, maar ek kla nie vandag nie.

Hoekom nie, vra julle…

My agtjarige dogter kom nou die middag na my toe en begin vir my vertel van pers arbande. Ek is vreeslik besig op daai stadium en luister so met een oor na die storie. Iets van die mense kla te veel en ‘n oom wat pers armbande maak sodat hulle kan ophou. Ek verstaan nie te lekker nie en sê: “Dit klink interessant, waar hoor jy dit?”. Kyla se antwoord: “Mamma, waar dink jy? Op Oprah natuurlik!”

Ek besluit toe om die aand Oprah te kyk (heruitsending van die middag se episode). Een of ander Amerikaanse pastoor het hierdie ‘pers armband beweging’ begin. Ek het nou vergeet hoe sy storie presies gaan, maar it boils down to this: Ons almal is so geneig om te kla, ons kom dit amper nie eers meer agter nie. Ons kla oor die verkeer, die weer, en, en … so kan ek lang lysies hier maak en dis soveel negatiewe denke, oor en oor. Die pers armband wat jy dra is veronderstel om jou atent daarop te maak dat jy kla. Jy kies aan watter arm jy hom wil dra. As jy kla, haal jy hom af en sit hom aan die ander arm. Die doelwit is om hom vir 21 dae aan een arm te dra – 21 dae is blykbaar hoe lank dit neem om ‘n gewoonte af te leer.

En terwyl ek so na die man luister, dink ek dis ‘n absolute briljante idee, maar dit klink makliker gesê as gedaan! En ek luister verder en toe begin dit vir my meer sin maak. Sien, dit gaan oor die energie wat jy in die klaery insit en die intensie waarmee dit gedoen word. Aha! ‘Light bulb moment’! Ek moet DINK voor ek dit sê… ek kan ‘n aanmerking maak sonder dat dit negatief hoef te wees.

Ek en Kyla het nog nie pers armbande gekry nie, ons gebruik sommer van haar gekleurde plastiek armbande, maar ons dra hulle en moes nou al ‘n paar keer oorgaan ander arm toe en dis nou maar eers 3 of 4 dae! Ek het agtergekom ek kla die meeste oor mense wat ek dink nie ordentlik kan bestuur nie… daai wat dink hulle is die enigste in die ry wanneer die pyltjie net 5 sekondes flikker, en wegtrek in tweede rat en sukkel om oor die kruising te kom terwyl daar 20 ander karre is wat bitter graag nog vandag by hulle bestemming wil uitkom! En nou is ek nie seker of ek my armband moet oorskuif na die ander arm toe nie… ek dink ek moet, want ek het sommer weer van vooraf geïrriteerd begin voel toe ek dié laaste stukkie skryf – slegte energie!!!

Ok, hy’s geskuif. Nou begin ek weer oor! Ek dink dis ‘n grand idee hierdie. Dit maak my definitief meer bewus van wat ek sê en hoe ek dit doen. Ek gaan kyk of ek dit kan regkry!

Lekker naweek vir julle almal!

SS

Permalink 7 Kommentaar

Sonia Sinclair

September 20, 2007 at 9:32 vm (Pixels)

Ek doen bietjie ’self promoting’ vandag. Ek het so rukkie terug vertel van my droom en dat ek besig is om baie hard daaraan te werk.

Hier is ‘n link na my plekkie op Myspace. http://www.myspace.com/soniasinclair

Dit is drie van my eie songs – lirieke en musiek. Noem dit ‘n demo-cd. My eerste doelwit is om dit na radiostasies te vat en (hopelik) ge-playlist te kry. Ek wag vir die finale artwork van die cd cover en dan print ons.

Dit is opgeneem, gemeng en gemeester deur Ludwig Bouwer (The Lemmings) by One Big Room Studios. Heath Fouché op elektriese en akoestiese kitare, Jonathan Martin op addisionele akoestiese kitare, Brian Hodge op klavier en Ludwig Bouwer op bas kitare, klawerbord en programmering.

Ek het nog nie alles op Myspace mooi gemaak soos wat dit moet wees nie, maar hou die spasie dop vir ‘n slideshow en miskien ‘n video binnekort. Alles neem tyd en kos baie geld en my geduld met tyd en min fondse is nie goed nie! Maar soos ek voorheen al gesê het… ek persevere!

Enige komplimente EN kritiek is welkom.

Lekker dag almal!

SS

Permalink 8 Kommentaar

Maandag

September 17, 2007 at 11:24 vm (Pixels)

Hallo! Hier’s ek weer!

Ons het ‘n BAIE rowwe week agter die rug… Ek sal voortaan regtig baie simpatie hê met enige iemand wat sê hy’t GRIEP… Dit was nie lekker nie en ek wens dit vir niemand toe nie.

Ek lyk nie meer soos death warmed up nie en begin so stadig my ou self voel en het net nog ‘n kuggie oor van die lugweginfeksie wat my ook ingehaal het. Ek is gatvol vir pille (haat dit oor die algemeen om pille te drink). Ek kan nog nie koffie face nie, maar het ‘n nuutgevonde liefde vir dun hoendersop gekry.

Ek haal alweer in…

Lekker dag

SS

Permalink 4 Kommentaar

Valskerm spring!

September 6, 2007 at 11:23 vm (Pixels)

In my eerste inskrywing het ek genoem dat ek vir julle gaan vertel van my valskerm-springery. Net gewone valskerm spring (static line), nie skydiving nie. Here goes.

Dit was so 14 jaar terug. Ek en drie vriende het besluit dat ons dit net eenvoudig moet probeer. Ek het gebel, al die nodige info gekry en die bespreking gemaak. 

Die Saterdagoggend vroeg by Wonderboom lughawe aangemeld – twee vriende kort. Dis toe nou net ek en Adriaan. Maak toe nou maar maatjies met die ander vreemdes wat ook daar is vir die groot avontuur. Almal baie opgewonde en baie grootbek! En ek is die enigste girl in die groep van omtrent 12. Het sommer vroeg al besef dat ek die skoner geslag se naam moet hoog hou.

Begin toe met die ‘opleiding’… Na so uur het ek begin wonder hoe ek alles gaan onthou as ek in ‘n panic state daar hoog bo in die lug is… ek is nog plat op die grond en ek begin al so effe bewerig voel. Ek dink net die heeltyd: Hou jou pose! Nie een van hierdie ouens lyk bang nie – hulle gaan lekker vir jou lag!

Die instrukteur leer ons mooi. Hoe ons uit die vliegtuig tot op die vlerk moet klim… Hoe ons moet arch en die vlerk moet los… Hoe ons moet seker maak al die selle van die valskerm is oop… Hoe ons die hoogtes gaan moet skat, want op ‘n sekere stadium mag jy nie meer 180 grade draaie maak nie… Dat jy die windkous moet dophou, want jy moet teen die wind land… En… waar jou spaar ‘vallie’ is… dis nou wanneer die regte ‘vallie’ nie wil oopmaak nie! Goed dan. Nou is ons reg vir die ware Jakob!

Gaan staan in die ry en word ge-issue met ‘n helmit en ‘n valskerm. Ons is reg vir groot dinge! Terwyl ons daar staan en wag om na die hanger ge-summons te word, spring daar ‘n klomp uit ‘n vliegtuig. Nou kan ons mooi sien hoe dit gedoen word. Ek kan nie presies die details onthou nie, maar ek vermoed een van daai ouens se valskerm wou nie lekker oopmaak nie en hy moes ‘n ‘cut-away’ (’skies, kan nie al die terme onthou nie) doen – dis nou wanneer jy die spaar ‘vallie’ gebruik. Ek weet net hy het nie sag geland nie en ek het later gehoor die ambulans het hom kom haal!

Hoe klim jy in ‘n vliegtuig, terwyl jy weet jy moet weer daar uitspring, as dié prentjie nou net voor jou afgespeel het? (As jy jonk is, het jy baie moed!) Nodeloos om te sê, die ses van ons was aansienlik stil oppad hanger toe.

Uiteindelik het die tyd aangebreek en ons is in die aerie, besig om op te styg. Maar ek sukkel met my helmit. Die ding is vreeslik groot, en dit maak nie saak hoe styf ek hom vastrek onder my ken nie, hy sak die heeltyd oor my voorkop as ek my kop bietjie agtertoe tilt. Sulke goed kan my vreeslik af-pp… Goed, niks wat ons nou daaraan kan doen nie. Die instrukteur skree iets soos “3000 meters, check” en ons almal kyk by die vensters uit en skree ook ”CHECK!” En die volgende oomblik begin dit ongelooflik vrot in daai vliegtuig. Onthou, die deur is nog toe! Ek kan dit werklik later nie meer uithou nie. Ek begin dink om nou uit te spring is die enigste opsie, want ek sal versmoor in daardie stank! Een van die ouens het letterlik in sy broek ge-poef van bang-geit – I kid you not!

Die instrukteur skuif daai deur oop en wys ons moet begin regmaak. My hande is pap sop nat gesweet… Die ou agter Adriaan begin Psalm 23 kliphard opsê…Ek is derde in die ry, Adriaan is vierde. Hy sê as daar enige iets met hom gebeur, moet ek asseblief vir sy ma sê hy was baie lief vir haar! Ek probeer myself in ‘n ‘happy place’ kry, want die ou met die slegte magie staan reg voor my en die walms is oorweldigend!

Die eerste outjie skuif nader, praat bietjie met die instrukteur, en skuif verby. Hey, wat nou? Die tweede outjie doen dieselfde! Eweskielik is dit MY beurt…

En ek dink, dis nou of nooit. Ek was nog nooit so bang in my hele lewe nie. My hart klop so vinnig en so hard ek hoor skaars die gedruis van die vliegtuig nevermind die instukteur wat vir my iets probeer vertel! Om jouself te kry om tot op die vliegtuig se vlerk te kom, is een ding, maar om daai vlerk te los… bitter, bitter moeilik…

Ek maak my oë toe, los die vlerk en gooi my armpies agteroor en daar VAL ek. Ek dink dit neem drie sekondes voor die valskerm oopmaak (dis static line), maar dit voel soos ‘n ewigheid (ek sweer tot vandag toe, dis langer!!). Ek onthou ek het vreeslik gegil – vir drie sekondes (he-he), en dan ruk alles jou effe boontoe (hier het ek ‘n paar kraswoorde ge-uiter wat ek eerder nie nou sal herhaal nie!) en dan voel jy eweskielik meer in beheer…

Goed, nou moet ek alles check. Daar is geen manier wat ek enige iets bokant toe kan beloer nie, want die blêddy helmit hang oor my oë en my hande klou vas aan daai valskermtoue! Ek lig en trek maar so drie keer aan die toue en hoop vir die beste! Vriende wat onder gestaan en kyk het, sê my valskerm het so bietjie gewapper aan die kante – al die selle het nie mooi oopgegaan nie.

Dit was fantasties! Toe ek eers daar in die lug hang met net die gesuis van die wind in my ore en die prentjie onder my, was dit die ongelooflikste gevoel wat ek nog ooit gehad het! Ek het draaie gemaak en alles van alle kante bekyk en gewens ek kan vir ure net daar bo bly.

Ek het oraaiterig geland. Knieë was bietjie nerf af na die valskerm my vir nog ‘n ent getrek het. Maar dit was alles SO die moeite werd! Toe ek eventually opstaan van die grond af, het ek in trane uitgebars – die gevoel was net so overwhelming! Ons kon nie uitgepraat raak oor die WOW! daarvan nie!

Ek was daai dag so trots op myself en ek het daai grootbek-outjies gewys dat ons girls eintlik baie tough is!

Ek kan dit regtig aanbeveel! As jy nie seker is nie, gaan doen dan eers ‘n tandem skydive. Dis amper lekkerder, want jy vry val vir langer en jy hoef niks te doen behalwe dit te geniet nie! En as jy daarvan hou, kan jy maar ‘n bungee jump ook op jou lysie sit!

Lekker dag

SS

Permalink 7 Kommentaar

Inhaal…

September 5, 2007 at 9:13 vm (Pixels)

My dsl lyn was AF. Van Vrydagaand af. Dood. Kaput. Eers vanoggend weer aangekom…

Het Helkom enige idee wat dit aan my doen? (My telefoniese gesprekke met hulle los ek vir ‘n storie vir ‘n ander dag, want dit gaan tyd neem… en ek is nou so opgewonde om online te wees, dat ek nie my eie fun wil spoil nie!!)

Eerstens, staan my besigheid stil en kan ek nie my werk doen nie! 

En tweedens KAN EK NIE BLOG NIE! Ek was die hele tyd bewus daarvan dat ek uitmis op iets.

So, nou het ek so baie om in te haal – werk en opvang op almal se blogs, dat ek nie veel meer gaan skryf nie. So many things to do, so little time!

Lekker dag verder!

SS

Permalink 3 Kommentaar